Die lewe is ’n krygsbanier

In Nederland het ‘n bekende digter, Guido Gezelle, in 1892 ‘n diep aangrypende gedig geskryf oor ons lewe onder die oorlogsbanier van die kruis. Dit is die aanleiding tot en inhoud van hierdie stuk.

In die brief van die blydskap, die Filippense-brief, sê Paulus wat vir hom die sin van die lewe was, wanneer hy skryf: Vir my is die lewe Christus (1:21). Om vir Christus te lewe, om Hom te verkondig, was sy lus, sy liefde, sy lewe – sy hoogste vreugde. Christus is die geheim van die blydskap in die die brief van die blydskap.

In 1 Korintiërs 2:1-2 spel Paulus hierdie lewensdoel van hom uit: Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Die kruis was vir Paulus alles – die hart, die inhoud van sy bediening. Dit was, om dit nou maar so te sê, die lesinhoud van sy preke, van sy katkisasie, van sy huisbesoek. Toe ek by julle gekom het, het ek my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Niks anders nie, maar alles het gedraai net om die kruis.

Sonder die kruis sou Paulus se lewe en bediening sinne-loos gewees het. En ons lewe en bediening eweneens.

Hierdie evangelie bring egter ook stryd mee. Oor die Naam van Christus sal die wêreld ons haat (Joh 15:21). Dit is nie verniet dat Paulus in Efesiërs 6 in militêre beelde die toerusting van die Christen beskryf nie: die swaard van die Gees, die skild van die geloof, ens.

  • Die kerk is ‘n strydende kerk.
  • Dit is ‘n stryd … baie spesifiek onder die vaandel (krygsbanier, oorlogsvlag) van die kruis.
  • Dit is ‘n lewenslange stryd, totdat ons uiteindelik, nadat ons die goeie stryd gestry het, die kroon van geregtigheid uit die hande van ons Koning, ons Here Jesus Christus, ontvang (2 Timoteus 4:8).

Vroeër het leërs ‘n vaandal, ‘n krygsbanier op die slagveld met hulle saamgedra. Daardie vaandel het gesê: vir wie en waarvoor hulle veg.

Presies dit is wat ons lewe as Christene is: ‘n stryd onder die vaandel van die kruis. Dit is ‘n oorlog vir Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Dit is ‘n lewenslange stryd, ‘n stryd met sy goeie, maar ook met sy swaar (kwade) dae, ‘n stryd waarin ons gewond word, seerkry en byna val, ‘n stryd met sy onbeskryflike groot vreugdes, maar ook ‘n stryd met en midde-in bitter verdriet. Dit is ‘n stryd sonder ophou teen die duiwel, die wêreld en ons ou, sondige natuur.

En die duiwel en my self, my ou ek, maak dit so oneindig moeilik vir my … dat ek soms byna nie meer kan nie, maar …

die troos in die stryd is: Die Here self rus ons toe vir die stryd (Efesiërs), Hy leer ons hande om oorlog te voer, sodat ons arms ‘n koperboog span (Psalms 18:34), Hy wat alle mag het, is met sy strydende kerk (Matteus 28:18-20).

Dus: net die Here Self en net wat Hy doen is ons troos.

Maar met Hom is die oorwinning gewaarborg. Immers … die kruis ís die oorwinning. Daarom is die Kruisbanier ook ‘n Oorwinningsbanier.

Ja, ons stry … maar as oorwinnaars deur die kruis.

Hy hou my swak hande vas … wat die banier moet dra, maar nie kan, nie kan, ten enemale nie kan sonder Hom nie.

Daarom is die lewe: om in Christus en deur Christus en danksy Christus die Kruisbanier tot in sy hande te dra. Met sy hande tot in sy hande! … En ondanks my hande.

Hier volg dan die gedig van Gezelle:

Het leven is een’ krijgsbanier

Het leven is een’ krijgsbanier,

door goede en kwade dagen,

gescheurd, gevlekt, ontvallen schier,

kloekmoedig voorwaards dragen.

Men tuimelt wel, en wonden krijgt

men dikwijls, dichte en diepe…

‘t en vlucht geen weerbaar man, die wijgt*,

of hem de dood beliepe!

Het leven is… geen vrede alhier,

geen wapenstilstand vragen:

het leven is de Kruisbanier

tot in Gods handen dragen!

(Sien verklarende aantekeninge hier onder)

Afrikaanse vertaling van my:

Die lewe is ‘n krygsbanier

Die lewe is ‘n krygsbanier,

deur goeie en sware dae,

geskeur, gevlek, byna laat val,

dapper voorwaarts dra.

Mens struikel wel, en wonde kry

mens dikwels, digte en diepe …

en daar vlug geen weerbare man, wat stry,

selfs al sou die dood hom tref.

Die lewe is … geen vrede alhier,

geen wapenstilstand vra:

die lewe is die Kruisbanier

tot in Gods hande dra!

VERKLARENDE AANTEKENINGE BY DIE NEDERLANDS:

1. Let op die afwisseling: krygs- en KRUIS-banier

2. Die lewe is geen vrede alhier: Dit is ‘n stryd, totdat ons die Kruisbanier in God se hande lê

3. Die lewe is: om die Kruisbanier tot in God se hande te dra.

4. Ontvallen = laat val, verloor

5. Kloekmoedig = dapper

6. Tuimelt = struikel

7. Schier=byna

8. Wijgt = stry, veg

9. Of = selfs al

10. Beliepe = sou tref

11. ‘t en = en daar

Reeks Abraham 6

Lees: Genesis 15:1-6; Romeine 4

Teks: Genesis 15:1 (Reeks Abraham nr.6)

Datum: 13 Mei 2012

Psalms: 18:1,2; 9:7 ;16:1,2; 18:14,16; 89:7

1. Inleiding

Ons geloofslewe is nie ‘n altyd reguitlopende lyn nie: Soms skiet die lyn die hoogte in; ander kere stort dit in die diepte neer. Ons geloof ken sy hoogte- én sy laagtepunte:

  • Soms bevind ons ons op die kruin van geloofsvreugde. Soms loop ons oor van geloofsvertrou, sodat ons dit saam met Dawid (Ps 18:29) uitroep: Want met u loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur.
  • Ander kere word ons geloofslewe weer gekenmerk deur ‘n gebrek aan vertroue in die HERE. Dan kan die toekoms vir ons so uitsigloos en donker lyk. Dan bevind ons ons onder in die dal van kleingeloof.

Hierdie opstygende en neerdalende lyn sien ons ook in die lewe van Abram, die vader van die gelowiges.

  • Want wel is dit so dat Hebreërs 11 hom plaas in die ry van geloofshelde: Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek (v 8). En: Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer…want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek (vv 17-18).
  • Maar Abram was nie supergelowige wat ver bo ons staan nie. Hy was ‘n mens net soos ons. Daarom het hy in sy geloofslewe ook die laagtepunte, die diep dal van kleingeloof, geken. En juis daar tref ons hom in die begin van Genesis 15 aan.

In die geskiedenis van Genesis 15 leer ons onsself ken.

Ja, maar ons leer óók God ken: Wie en Wat God vir ons is. Twee dinge word van Hom gesê, twee dinge wat so troosryk en leersaam is in ons tyd van hewige aanslae teen die kerk, in ons tyd van gejaag na aardse rykdom:

1. die HERE is ons beskerming; en

2. die HERE is ons rykdom.

2.1. Die HERE is ons beskerming

In Genesis 15 tref ons Abram dus aan op ‘n laagtepunt van sy geloofslewe.

Wat was dan die probleem? Wel, Abram was bang. Want anders sou die HERE sekerlik nie vir hom gesê het: Vrees nie, Abram….

Om dit uit te vind waarvoor hy bang was, moet ons mooi let op die begin van ons teks: Na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom … en gesê: Vrees nie, Abram …. Na hierdie dinge, na hierdie dinge het Abram bang geword en het die HERE hom opgeroep om nie te vrees nie. Watter dinge was dit dan? Dit was die gebeure in die vorige hoofstuk: Abram se oorwinning oor die wêreldmoondheid van Kedor-Laomer. Dit was ‘n grootse oorwinning. Maar nou het Abram, die dappere, Abram, die groot krygsheld, begin bang word. Waarskynlik het hy begin tob: Wat sal gebeur as Kedor-Laomer terugkom, as hy met méér konings teen my saamspan?

Dit is tog eintlik verbysterend dat Abram bang is, nie waar nie? Want:

  • Maar kort gelede het hy ondervind hoe magtig sy God is en hoe die HERE die vyand in sy hand gegee het nie. Ons kan maar gerus sê: Hy het die evangelie te siene gekry: Christus se die oorwinning oor Kedor-Laomer om sy ontwil – sigbare evangelie.
  • En dit is nie al nie. Christus het deur sy gesant Melgisedek na Hom toe gekom met sy Woord. En deur die krag van daardie Woord kon hy die duiwelse versoeking van die koning van Sodom weerstaan. Christus het sy Woord soos ‘n ondeurdringbare muur ingeskuif tussen die woord van die koning van Sodom en Abram.

Maar nie net by Abram kry ons dit nie – hierdie laagtepunte ondanks die Woord, ondanks die heerlike evangelie van Christus se triomf nie:

  • Ons sien dit ook in die lewe van Israel nie: Keer op keer en male sonder tal het die HERE sy volk op luisterryke wyse verlos: die uittog uit Egipte, die deurtog deur die Skelfsee en nog baie meer. En tog: hoevele male het hulle nie gewanhoop en gevrees in die aangesig van hul teenstanders nie – en dit maar kort nadat hulle die reddende regterhand van die Here gesien en gevoel het.
  • én – ons sien dit ook in ons eie lewe. Want ons het ‘n veel en veel ryker openbaring van God se almag. Ons het kennis van die mees glorieryke oorwinning: die oorwinning van die kruis, die triomf van die Seun van God oor ons grootste vyand, die Satan, op die slagveld van Golgota. Ons weet hoe Hy die dood ontroon het deur sy opstanding uit die graf. En dat Hy opgevaar het na die hemel: dat Hy beklee is met alle mag in die hemel en op die aarde en dat Hy met sy almag met ons is. Ja, ons weet dit alles. En tog, en tog …. dit alles het ons, maar nogtans … hoeveel keer twyfel óns nie, is óns bang vir die toekoms en is óns onseker oor ons voortbestaan as kerk? Dan leef óns asof daar nooit ‘n kruis was nie en asof daar geen God in die hemel is nie en asof ons geen beloftes van die HERE het nie.

Daarom het ons geen rede om op Abram neer te sien nie, maar wel alle rede om langs die vader van die gelowiges te gaan staan en die HERE te pleit: Kom U ons kleingeloof te hulp!

En dit sien ons op so ‘n heerlike wyse geopenbaar in hierdie geskiedenis: hoe die HERE Abram in die krisis van sy geloofslewe te hulp snel. So is God. Hy raak nie ongeduldig met hom nie. Maar Hy kom na Abram toe met sy Woord. Want na hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom...”. Dié woord, dit is alles. Dié woord moet vir Abram genoeg wees.

En so het God deur die eeue heen sy volk getroos en gesterk: met sy Woord. Altyd weer het sy Woord weerklink. Want telkens weer hoor ons hoe die HERE tot Israel spreek deur die mond van sy profete. En uiteindelik het God so ver gegaan dat daardie Woord vlees geword het om ons te red en te bewaar: Jesus is gebore en het gesterf en opgestaan! En daarna het die Here sy Woord die wêreld in laat gaan deur sy apostels en evangeliste en met daardie Godswoord moes hulle die gemeentes opbou en versterk in hulle geloof.

Met ons, gelowiges van die een-en-twintigste eeu, gaan dit nie anders en handel die Here nie anders nie: Met sy Woord daal die Here uit sy hoë hemel neer in die diepte van ons bestaan en in die afgrond van ons ongeloof. Is dit nie ‘n ontsaglike groot wonder nie: dat die Allerhoogste God Hom nog bemoei met mense wat net stof en as is en met mense wat Hom soveel kere terleurstel, nie? Is dit nie genade om van stil te word nie? Met daardie Woord snel Hy ons te hulp en daardie Woord, ja, dit kom na ons toe daar by die huis en hier in die kerk. Waardeer ons nog sy Woord? Gaan luister ons nog daarna? Want, ja, met daardie Woord wil Hy ons verlos uit ons angs en ons vertwyfeling en ons verdriet en ons kleingeloof. Met daardie Woord wil Hy ons geloof versterk.

… DEUR ons aandag op Hóm en op Hóm alleen vestig: op Wie en Wat Hy vir ons is, wat Hy doen, sy dade.

Want met nadruk staan dit in die oorspronklike: Ék. Ék is jou skild…. Ék, die HERE self, Hy is die hart en die sentrum en die middelpunt van die trooswoord wat tot Abram kom. Want die Bybel is per slot van rekening nie in die vernaamste plek ‘n boek wat ons vertel van die doen en late van mense en van Abram se dade en Dawid en andere se handelinge nie. Dit is die Boek oor God en wat God doen tot heil van sy volk. Dit is die Woord wat aan ons verkondig wat Hy vir ons wil wees.

En vir ‘n bang Abram, omring aan alle kante deur ‘n vyandige wêreld, sê Hy dan ook: Ek is vir jou ‘n skild. Dit wil Hy vir sy kind wees: ‘n skild ter beskerming – ‘n muur van staal, sê Calvyn. Hierby kan ons maar dink aan die skild van ‘n soldaat wat die kryger moet beskerm teen die pyle en die swaarde van die vyand.

En wat alles nou des te wonderliker maak, is die feit dat die HERE ons nie iets gee om ons te beskerm nie, maar Iemand. Ja, Hy gee Homself. Hy wil en is en sal Self daardie skild wees wat tussen ons en die vyandsvuur in gaan staan.

Die HERE Self ons skild – dit was ‘n beeld wat die Psalmdigters diep aangegryp het. Om by die Here te skuil en dat Hy ons beskerm – dit is ‘n sentrale, ‘n deurlopende lyn in die Psalms. Telkens noem hulle die HERE hulle skild. Dink maar net aan Psalm 18 vers 1, wat ons aan die begin van die diens gesing het:

“Die HEER’s my rots, my vesting sterk,

…my skild, die weerkrag van my heil…”. (Ps 18:1, Totius)

En waar in die Nuwe Testament het ons ‘n duideliker bewys dat die Here self – in eie Persoon! – as ‘n skild tussen ons en die duiwel wil gaan staan en sy vlammende pyle op Hom wil laat afkom as op Golgota. Want daar het Hy vurige pyle van die Bose trotseer en oorwin. Dit het Hy gedoen om sy volk te verlos. Teen die duiwel het ons daarom geen beter skild as die eie Lam van God en sy bloed nie. Daarom berym Totius Openbaring 12:10-12 in Skrifberyming 12:3 so treffend:

Die Lam wat hul laat triomfeer

sy bloed het hul gedek as skild

en al die pyle afgeweer.

Teen hierdie skild vermag al die aanklagte en aanvalle van die Satan niks nie. Daarom, wanneer die duiwel u beskuldig en u wil laat twyfel oor u verlossing, hou dan as skild op teen sy aanvalle: die skild van Golgota, die eie Seun van God. En roep Satan toe: my Lam, my Jesus, het volkome betaal vir al my sondes. Daarom kan jou pyle en jou aanklagte my nie deer nie.

Voor sy hemelvaart het ons Here Jesus verder aan sy kerk belowe: Hy wil met sy almag met ons wees. En is dit nie ‘n besondere gedagte nie: die almagtige Koning van die kerk soos ‘n skild rondom ons?! Troos dié skild u?

Neem die skild van die geloof op, sê Paulus in Efesiërs 6 vers 16. Daarmee bedoel hy nie dat die geloof self so magtige verdedigingsmiddel is nie. Ag nee! Ons geloof is so swak. Ons sien dit mos in hierdie geskiedenis. Maar met die hand van die geloof neem u God self, die skild van die gelowige, op. En dan is u so veilig as wat maar kan kom, want dan gaan u skuil agter God self.

Maar ons kom by die tweede:

2.2. die HERE is ons rykdom

U sal sekerlik onthou dat die koning van Sodom, na die oorwinning van Abram oor Kedor-Laomer, aangebied het dat Abram maar die buit kon neem. Maar dié loon het Abram van die hand gewys. Die koning van Sodom mag nooit sê: hy het Abram rykgemaak, nie. Hy wou nie leef uit die hand van mense nie, maar uit die hand van die HERE alleen.

Was Abram miskien spyt dat hy die loon afgewys het? Dit is moontlik dat die duiwel hom in die verband probeer versoek het.

Calvyn sê hierby: Ons as mense word deur verskillende en ontelbare begeerlikhede van ons sondige natuur heen en weer geslinger en op verkeerde paaie gelei; ons is so geheg aan die teenwoordige lewe.

In hierdie geloofsversoeking kom die HERE Abram te hulp, weer met sy Woord. Hy doen dit altyd met sy Woord. En in sy Woord sê God vir sy kneg: Ék, Ek self, Ék
is jou uitermate grote loon. So kan ons die woorde ook vertaal. Weer ontvang Abram die Woord en weer wys die Here Abram in daardie Woord op Homself: wat Abram aan God het. Ons moet besef dat God ons kosbaarste besit is.

Calvyn skryf by hierdie woorde: Dan eers is ons werklik gelukkig, as God ons Vriend is. Want God oorlaai ons nie alleen met allerhande weldade nie, maar Hy gee Homself aan ons om te geniet. Want wat sou ons as mense nog meer kon verlang as om God te besit.

Maar, sê Calvyn, niks is moeiliker as om die verkeerde luste van die vlees te beteuel nie en ons goddelose ondankbaarheid is so erg, dat God ons nooit genoeg gee nie. Daarom noem die HERE Homself nie net ons loon nie, maar ons baie groot loon. Daarmee moet ons meer as tevrede wees. Hierdie baie groot loon – God self – is die oorvloedigste stof tot vertroue en ‘n hegte steun.

Vir Abram was die Woord van die HERE besonder troosvol.

Maar hy het tog nog ‘n probleem gehad: Die nageslag, die saad, wat die HERE aan hom beloof het. Want hy en sy vrou was al oud en nog het hulle nie ‘n kind van hul eie gehad nie.

Miskien dink: wat het dit met die loon te make waarvan God gepraat het? ALLES! Dit het alles daarmee te doen. Want immers: uit die nageslag, uit die saad van Abram sou dié Saad, die Christus, gebore word, in wie al die geslagte van die aarde geseën sou word. Die Seun van God, self God, Hy is ons uitermate groot loon. Want Hy – God in eie persoon dus – HY is ons verlossing. EN
ons weg na die Vader. EN
ons Bruidegom. As ons Hom het, het ons alles. Dan het ons God. Na daardie loon , die koms van die groot Saad, het Abram ook uitgesien.

Dit is wonderlik hoe die HERE Abram se geloofstwyfel te hulp kom:

  1. Eerstens herhaal Hy sy belofte van ‘n groot nageslag.
  2. Tweedens gee Hy Abram ook ‘n teken: die sterre aan die hemel. So ontelbaar, sê Hy vir Abram, so sal jou nageslag wees.

Ons is omring deur skrik en duisterheid:

uit donker plekke loer die onheilsmagte.

Maar bo ons skyn die helder sterrewagte

van u verbond, waarop ons voor U pleit.

So het God sy volk se kleingeloof telkens weer met tekens te hulp gekom. Ook ons ontvang twee tekens: die doop en die nagmaal. En in beide gaan dit om God se loon aan ons: God self. Immers, in die doop word God self, die Vader en die Seun en die Heilige Gees aan ons belowe. Beide die doop en die nagmaal belowe en verseker dat die aan Abraham beloofde Saad, dat die Verlosser, dat die rykste loon denkbaar ook vir ons bedoel is en beloof word.

Abram het op God Self gesteun, toe hy hierdie beloftes geglo het. Daarom word daar gesê: En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Hier in Genesis 15 is geen sprake van werke nie, maar net geloof. En daardie geloof was nie eens Abram se eie werk nie. Inteendeel, hy het gevrees. Maar toe het die HERE sy Woord en sy teken vir Abram gegee. En deur die krag van sy Woord is die regverdigmakende geloof by Abram geskep.

3. Slot

Met die Woord van Genesis 15 het God ook ons vandag te hulp gekom in ons vrees en nood. Met die Woord het Hy ons op Homself gewys. En:

  • wie God het, het ‘n beskermer sonder weerga.
  • wie God het, het ‘n weelde wat nie gemeet kan word nie.

AMEN

Alle mense is gelyk

Ons is almal gelyk, sê Luther – want ons is almal niks.

Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself (Galasiërs 6:3).

(1) Abraham-dagstukke: Genesis, Boek van geboorte

Die naam Genesis beteken geboorte. Dit gaan in Genesis oor

•    die geboorte van hemel en aarde

•    en óók oor die geboorte van die kerk, die volk van God.

In Genesis 11:27 staan daar: En dit is die stamboom van Tera. Vir stamboom staan daar ‘n woord wat eintlik beteken: geboortegeskiedenis of geslagsgeskiedenis. Dit gaan dus vanaf Genesis 11 vers 27 tot Genesis 25 vers 11 oor die geboorte- of geslagsgeskiedenis van Tera, die vader van Abraham.

As ons egter daardie hoofstukke lees, sien ons: Dit gaan nié oor Tera nie, maar wél oor Abraham. Ek wil dit verklaar. Die bedoeling van die woord geboortegeskiedenis is nié: Nou gaan ons ‘n beskrywing kry van die geboorte- of geslagsgeskiedenis van Tera kry nie. Die betekenis daarvan is wél: Nou gaan ons sien wat uit Tera gebore is, wat uit hom voortgekom het.

Maar ons moet dit nog meer presies sê: Ons gaan sien wat die HERE daaruit gebore laat word het. Dit gaan om ‘n geboorte van bo-af, van God af.

Wát het die HERE uit Tera laat voortgekom? Die kerk, die volk van God.

Dit is geboorte deur God deur sy Woord: Net soos wat hemel en aarde gebore is deur die Woord van God, net so word die kerk gebore deur die Spreke van God.

Die kerk word gebore en instandgehou en staande gehou enkel en alleen deur God, deur die krag van sy Woord. Dit is vandag nog so. Dit moet ons baie goed besef.

Dit is: deur die Woord – en daardie Woord is Christus.

Sonder die Woord, sonder Christus, is daar géén genesis, géén geboorte, géén kinders, géén kerk nie.

Deur Christus word ons gebore as kinders van God. Sy Woord, sy kruis en opstanding, skenk aan ons die lewe.

Nou weet ons hoe belangrik die Woord, hoe lewens-noodsaaklik Christus is.

Reeks Abraham: Preek 5

Lees: Gen.13:14-14:24; Hebreërs 7:1-11

Teks: Gen.14:18-20 (Reeks Abraham nr.5)

Datum: 6 Mei 2012

Psalms: Ps 118:1,2; Geloofsbelydenis; 118:3,4; 118:5,6; 118:7,8

1. Inleiding

Hoeveel kere gebeur dit nie: Ons kom in die kerk, ons hoor ‘n besondere en ‘n blye boodskap en – gaan ons uit die kerk, dan word ons juis op daardie punt deur Satan in die versoeking gelei? Ek noem u enkele voorbeelde:

  • U het miskien een Sondag ‘n preek gehoor van God se besondere sorg, dat Hy u Vader is en dat Hy elke dag aan ons wil gee wat ons nodig het vir liggaam en siel. En u vind dit besonder troosryk. Maar net in die nuwe week kom daar die vreeslikste finansieële bekommernisse op u weg. En Satan bring u in die versoeking om te dink: Ek moet self sorg dat daar uitkoms kom. Ek self! En u dink nie meer aan die mooi preek waarin u geleer is dat u ‘n Vader in die hemel het wat sê: EK, die HERE, Ek sal vir jou sorg nie.
  • ‘n Ander voorbeeld: Die verlossingswerk van Christus word in al sy heerlikheid aan u verkondig: dat Hy ons verlos van die skuld en die mag en die gevolge van die sonde. Maar skaars is u uit die kerk en u maak al weer staat op u eie vroomheid en krag Ja, juis op die punt waaroor gepreek is, lei die Satan u in versoeking.

Dit sien ons óók gebeur in die lewe van Abram.

Maar ons hoor óók hoe die Here self Abram versterk in sy versoeking en hoe Abram, met die hulp van die HERE, die versoeking oorwin. Daarom is hierdie geskiedenis vir ons besonder leersaam in ons versoekings, want hier wys God ons die weg tot triomf oor die verleiding van die Satan.

In verband met hierdie geskiedenis van Abram let ons op:

1. die versoeking;

2. die versterking in die versoeking; en

3. die antwoord op die versoeking.

2.1. Die versoeking

So pas, in Genesis 13 vers 15 en 17, het Abram van die HERE Self te hore gekry: … die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. Die hele sin, elke frase daarvan, het besondere nadruk: die hele land wat jy sien, vir jou en vir jou saad en ék sal dit gee. Alles word beklemtoon. Maar – die laaste het nog die meeste klem: ék sal dit gee.

So pas was Abram by wyse van spreke in die kerk. So pas het hy die blye boodskap gehoor: ék, ék die HERE, sal die hele land Kanaän aan jou gee; Ek sal dit doen. So pas het dié woorde uit die mond van die HERE weerklink, of die versoeking kom op hom af om te dink: ék het die oorwinning behaal; ék, Abram, ék sal sorg dat hierdie woord waar word.

Kom ons kyk met aandag na die geskiedenis van Genesis 14. En by voorbaat vestig ek u aandag op die woorde van Melgisedek aan Abram in vers 20: Geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Daarmee sê die HERE by monde van sy gesant aan Abram: Die oorwinning was van die HERE en nie danksy Abram nie.

In die tyd van Abram was Kanaän nie ‘n politieke eenheid nie. Dit het uit baie klein stadstaatjies bestaan, elkeen met sy eie koning. In Genesis 14 word vertel dat ‘n sekere Kedor-Laomer, die koning van Elam, met drie bondgenote vyf van die stadskonings van Kanaän, die konings van Sodom, Gomorra, Adma, Seboim en Soar, aan hom onderwerp het. Vir twaalf jaar het dié oorheersing geduur, maar in die dertiende jaar het hierdie Kanaänitiese stadstate teen Kedor-Laomer in opstand gekom. Die uiteinde van die konflik was dat Kedor-Laomer en sy bondgenote die konings van Kanaän verpletterend verslaan het. Al die goed en voedsel van Sodom en Gomorra is ook buitgemaak en weggevoer.

Dit was ‘n oorlog wat ook Abram direk geraak het. Immers, Lot, sy broerskind, het in Sodom gaan woon het in vers 12 lees ons: Kedor-Laomer en sy bondgenote het ook Lot, Abram se broerskind, en al sy goed geneem en weggetrek. Ag, arme Lot! Hy het agter die begeerte van sy oë aangetrek. Maar nou het hy alles, al sy goed en sy vryheid daarby, verloor. Hoe tydelik en verganklik het die aardse rykdom nie geblyk te wees nie.

En nou kon Abram maklik geredeneer het: Ja, Lot, jy het baie lelik met my gemaak; jy het eerste gekies, al was ek ouer as jy en jy het die beste vir jouself gevat en die slegste vir my gelaat. Nou moet jy maar self sien en kom klaar. Nou help ek jou nie. Is dit nie hoe ons dikwels maak met mense wat ons te na gekom het nie?

Abram kon ook geredeneer het: My liewe Lot, jy het self gekies vir Sodom. Jy het goed geweet wat se slegte stad dit is. Dat jy nou in die moeilikheid is, is jou eie skuld. Sorg nou maar self dat jy daaruit kom. En dink ons nie baie maal ook maar so ten opsigte van ‘n broeder of suster wat as gevolg van eie skuld in die moeilikheid beland nie?

Maar so maak Abram nie! Hy bly Lot sy broer noem en hy mobiliseer sy weerbare manne om Lot te gaan bevry.

En – Abram behaal ‘n klinkende oorwinning en Lot word bevry. Deur die hand van die HERE – let wel!

Maar nou die versoeking: in die oorwinning het daar vir Abram ‘n geweldige versoeking gelê. Hy was nou in die oë van die Kanaäniete ‘n geëerde man. Immers, hy het die verdrukte stede verlos van Kedor-Laomer, hy met sy skitterende leër, en hy het die gevangenes en die buit teruggebring. Onder die Kanaäniete sou hy sekerlik voortaan bekendgestaan het as Abram die geweldige, Abram die oorwinnaar oor die wêreldryk. By die kampvure in die woestyne sou met eerbied sy naam vermeld word: Abram, die magtige, Abram wat konings verslaan, wat oor wêreldmagte triomfeer. Ja, in die oë van die Kanaäniete was hy nou iemand wat homself kon handhaaf en homself kon red, as dit daarop aankom.

U begryp dat die versoeking groot was. Pas het die HERE aan hom verkondig: EK, Ek die HERE, Ek sal die land Kanaän vir jou gee; Ek sal dit doen. Maar nou was die verleiding vir Abram baie groot om te dink: Ek het die oorwinning behaal, sonder God; ek kan self sorg dat die landsbelofte in vervulling gaan. Dit was inderdaad vir Abram ‘n groot versoeking om nie langer op die HERE te vertrou nie, maar om op eie krag staat te maak.

Dit is iets wat ons almal van nature graag wil doen: op eie bene staan. Ons wil nie afhanklik wees nie, ook nie van God nie. Sedert die sondeval sit dit in ons almal se natuur: dat ons soos God wil wees, dat ons vir onsself wil sorg. Liggaamlik én geestelik.

Abram het die beloftewoord van Christus gehoor. Hy het die oorwinning van Christus aan eie lyf meegemaak. En nou gaan hy juis op hierdie punt versoek word.

2.2. Die versterking in die versoeking

In vers 17 en verder hoor ons van twee ontmoetings wat Abram gehad het na sy oorwinning: ‘n ontmoeting met die duiwel en ‘n ontmoeting met Christus.

  • Die eerste ontmoeting, die ontmoeting met die duiwel, vind plaas in vers 17. Die koning van Sodom kom na Abram toe. Agter hierdie hele geskiedenis moet u die duiwel aan die werk sien. Dit is Satan se skuif op die skaakbord. Hy stuur die koning van Sodom. Hy moet Abram aanmoedig om hierdie onheilige weg te betree om nie meer te leef uit die hand van God alleen nie.
  • Maar voordat die duiwel tot aksie kan oorgaan, gryp God in. ‘n Tweede ontmoeting vind plaas. ‘n Ontmoeting met Christus kan ons gerus maar sê. Melgisedek, die koning van Salem, kom Abram tegemoet. Uit die bloute uit. Voordat die koning van Sodom sy mond kan oopmaak, verskyn Melgisedek op die toneel. Die koning van Sodom se gesprek, sy ontmoeting met Abram, word onderbreek. Dit is God se skuif en met die skuif sit hy Satan skaakmat. Ons kan die oorspronklike miskien beter so weergee: die koning van Sodom kom na Abram, maar Melgisedek … (v18). Maar Melgisedek! Dit is die MAAR van God se reddende, ingrypende genade: voordat sy kneg kan val, steek God sy hand uit in die persoon van Melgisedek. Melgisedek is sy gesant; Melgisedek is gestuurde van God.

In die Hebreeus word die verskyning van Melgisedek so weergegee, dat ons hierdie ontmoeting moet verstaan as noodsaaklike agtergrond van die ontmoeting van Abram met die koning van Sodom en Abram se reaksie op die aanbod van die koning van Sodom. Om dit nou maar so te sê: Deur en danksy hierdie ontmoeting maak Abram die regte keuse, wanneer hy die gesprek met die koning van Sodom hervat. Die ontmoeting met Melgisedek is die geheim, die verklaring van Abram se regte optrede teenoor die koning van Sodom. Dit bepaal Abram se optrede.

Wie was hierdie Melgisedek? Daar kan baie oor hom gesê word, maar ek wil volstaan met die opmerking: hy was ‘n afbeelding van Christus, ‘n heenwysing na die groot Verlosser-koning wat sy volk sou kom red deur homself as priester te offer. Ons Here Jesus is Koning en Priester tegelyk, soos Melgisedek dit ook was.

Ons kan dus gerus sê: Abram het in ontmoeting met Christus gehad. In die persoon van Melgisedek het hy te staan gekom voor die Seun van God. Agter Melgisedek staan Christus Self.

Hoe red Melgisedek Abram van die helse verleiding? Dit lees ons in vv.19-20. Wat
Melgisedek sê, sy Woord, plaas Abram se oorwinning in die regte perspektief:

  1. In die eerste plek seën hy Abram: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. Daarmee vestig Melgisedek Abram se aandag op die seën van God en dat Abram alleen danksy die seën van die HERE die land van seën sal beërwe. Met dié daad herinner hy Abram daaraan: alleen die seën van die HERE maak ryk, maak gelukkig. Alleen onder sy seënende hand en danksy sy seënryke bystand en hulp en sal Abram en sal ons Kanaän ontvang.
  2. In die tweede plek kom Melgisedek met ‘n lofprysing. Hy maak die HERE groot deur te sê: En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Daarmee sê Melgisedek vir Abram: die oorwinning was nie jou oorwinning nie, maar God s’n; daarom sal jy die land ontvang alleen deur sy hulp ….

As Nuwe Testamentiese gelowiges weet ons hoe die HERE die ewige Kanaän vir ons verkry het. Dit was alleen danksy die oorwinning van sy Seun aan die kruis, op die slagveld van Golgota. Daar het Hy die ou slang se kop verpletter. Daardie oorwinning was voluit God se oorwinning en syne alleen. Hy alleen het ons doodsvyande, die sonde, die duiwel en sy ganse ryk, verslaan. Daarom: Geseënd/geloofd is God, die Allerhoogste, wat ons vyand in ons hand gegee het. Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer! Hy en Hy alleen, Hy sonder ons, open met sy oorwinning die weg na die hemelse Kanaän.

In antwoord op die woorde wat hy gehoor het, gee Abram ‘n tiende van alles aan Melgisedek. Beter gesê: hy gee dit aan God. Immers, Melgisedek was die verteenwoordiger van die HERE. Wat wou Abram daarmee sê? Wel, die tiende verteenwoordig die ganse buit en deur die tiende aan God te gee, erken Abram: die hele buit kom U toe, HERE, want die oorwinning is van U. Hy bely dus dat hy alleen deur God en nie deur eie krag die land sal ontvang. Dit wil die Here ook van ons hê: dat ons aan Hom alleen die eer sal gee vir alles.

Ons kom by die derde:

2.3. die antwoord (Abram se antwoord) op die versoeking

Direk na Melgisedek kom die koning van Sodom, kom die Satan aan die woord. Hy sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself.

U moet die teenstrydigheid in die woorde van die koning van Sodom sien:

  • Enersyds erken hy dat Abram die oorwinnaar is. Daarom sê hy: Gee, gee my die mense.
  • Maar andersyds maak hy asof hy beskikking het oor die buit. Daarom sê hy: Maar neem die goed vir uself

Hierdie was ‘n duiwelse versoeking, want as Abram hier sou toegegee het, sou hy met dié daad erken het dat hy leef uit die hand van die koning van Sodom en nie uit die hand van die HERE alleen nie. Dit was dus niks anders as die versoeking waarmee hy alreeds te make gehad het in ‘n ander gewaad nie: die duiwel wil hê dat Abram onafhanklik van God moet leef.

Maar die HERE was die Satan Een voor. Een met ‘n hoofletter. Is dit nie wonderlik nie? Want voordat die koning van Sodom kon kom met sy misleiding, het die HERE Abram reeds teen die versoeking versterk by monde van Megisedek, die gesant, die tipe van Christus. Hy herinner Abram daaraan dat hy alles alleen aan die HERE se seën te danke het.

In sy antwoord aan die koning van Sodom toon Abram dat hy goed na Melgisedek se preek geluister het. Want hy noem die HERE met dieselfde naam as Melgisedek: God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. Daarmee bely Abram: nie die koning van Sodom is die eienaar van alle dinge nie, maar God. Hy is die Allerhoogste, wat beklee is met alle mag. Hy het alles gemaak. Alles is syne en alles kom van Hom af. Hy alleen maak ryk, daarom moet ons in afhanklikheid van Hom lewe.

3. Slot

Ons moet goed verstaan: Abram kon die versoeking net weerstaan het danksy die ontmoeting met Melgisedek. En dit geld ook vir ons: wanneer die Satan ons versoek, kan ons net deur ‘n ontmoeting met die groot Melgisedek, Christus, staande bly.

Dit is die HEER wat my gesterk het

Hy is my lied, my psamgesang (Ps 118:7 – Totius)

Die vraag is dus: Waar ontmoet ons ons Priester-Koning? Die antwoord is nie moeilik nie: Hy kom na ons toe in die Bybel en in die prediking. Lei ons nie in versoeking nie … en dan kom Christus in die kleed van die Woord na ons toe en versterk ons teen die versoeking. Gebedsverhoring!

AMEN

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 36 other followers