(56) Psalms van Christus

Psalm 16 (3): ‘n bewaarde erfenis

Toe Adam en Eva deur God in die paradys geplaas is, het hulle die allerheerlikste erfenis denkbaar ontvang. Maar…hulle het dit verloor! Deur die verleiding van die duiwel en deur eie, moedswillige ongehoorsaamheid het hulle hierdie weelde deur hulle vingers laat glip. Hulle is uit die paradys verdryf. Weg was hulle grootse erfenis. Hoe vreeslik, hoe uitermate tragies was dit nie, nie waar nie?

Dit maak ‘n mens bekommerd: hierdie erfenis van Psalm 16 wat ons as gelowiges ontvang, staan ons nie ‘n kans om dit ook te verloor nie? Is dit nie ‘n erfenis wat altyd onseker sal wees nie? Iets waaroor ons altyd sal twyfel: sal ons dit ooit verkry, sal ons dit nie miskien halfpad deur die verleiding van die duiwel kwytraak nie?

En dan moet ons bely: ja, as dit van onsself afhang, is een ding wel seker: ons sal die erfenis verloor!

Maar koning Dawid het ook geweet: dit is nie hy wat God vashou nie, maar God wat hom vashou. Die behoud van die erfenis is nie in sy swak mensehandjies nie, maar in die almagtige hande van die HERE. “U onderhou my lot”, jubel hy. “U” – dit staan met nadruk voorop – U doen dit. Met die woord “lot” – u onderhou my lot – sinspeel Dawid op die erfenis wat deur die lot toegewys word. Die HERE onderhou dit. Daarmee sê Dawid: U is die waarborg dat ek dit nooit, nooit sal verloor nie. Hy het sy geloofssekerheid gesoek in God.

Daarenteen was die apostel Petrus iemand wat altyd so self-versekerd was, dit wil sê: seker van homself en seker van sy eie vermoeëns. Hy was vas oortuig dat hy die Here Jesus nooit sou verlaat nie: al sou al die ander dit doen, hy sou dit nie doen nie. Maar in daardie nag toe Jesus gevange geneem is, het ook hy sy Meester, sy erfenis, losgelaat. Toe het hy geleer hoe onseker die erfenis is as dit van ‘n mens afhang. Geweldig is dit daarom dat dit juis hierdie apostel is wat later in sy eerste brief oor ons ‘n erfenis skryf en dan sê: dit is ‘n erfenis “wat in die hemele bewaar is vir ons, wat in die krag van God bewaar word…” (1:4,5). Daarmee bedoel hy: ons erfenis is ten volle beveilig, want dit lê in God se woning, die hemel. ‘n Beter brandkluis is daar nie. Dit is so veilig as wat maar kan kom, want dit word in die krag van God bewaar: by die krag van God kan u maar dink aan ‘n fort waarbinne ‘n gelowige veiligheid kan vind.

Hoe maak God ons erfenis vas en seker? Deur dit wat Hy in sy Seun vir ons gedoen het: deur sy kruis. In sy kruis lê ons erfenis veilig, vas en seker. Kruis en paradys, kruis en erfenis, is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Deur die kruis ontvang ons die paradys. Juis wanneer Jesus aan die kruis hang, sê hy aan ‘n sondaar, ‘n moordenaar: “Voorwaar, Ek sê vir jou: vandag sal jy saam met my in die paradys wees”. Aan die kruis moet ons vashou. Dan is ons erfenis verseker en vas soos die berge. Dan lê dit vas, nie in ons goeie werke nie, maar in die verlossingswerk van Christus wat nooit kan faal nie.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s