Argief

Psalm 110 in Die Kerkblad 2014

Maar Jesus Christus sê “my Here”


Ons Here Jesus Christus verklaar self Psalm 110:1

Dr AH Bogaards

Die 2001-omdigting sê “my koning”

In die 2001-omdigting het Cloete die “my Here” van Psalm 110:1 omgedig tot “my koning”. Hy het ook in die publiek gesê hoekom: Hierdie Psalm is volgens hom en sy adviseurs nie Messiaans nie. “My koning” verwys dus net na ‘n aardse koning.

In sy artikel in Die Kerkblad van April 2004, Die Christusverwagting in die Psalms, neem professor Herrie van Rooy standpunt in teen diegene wat daarteen beswaar maak dat die Christus, die Messias, onder andere uit die 2001-omdigting van die Psalms verwyder is.

Van Rooy betoog dat geen Psalm direk Messiaans is nie, dit wil sê dit wys nie eerstens op Christus nie, maar op die koning of koningshuis van Israel. Om dit te illustreer, gebruik hy die voorbeeld van Psalm 110:1 en spesifiek die woorde “my Here”. In die Hebreeus staan daar vir “my Here” ‘n woord “Adoni”, ‘n woord wat volgens van Rooy dikwels gebruik word om ‘n mens van hoër rang aan te spreek. Psalm 110 kan daarom volgens hom ook verstaan word as dat dit in sy oorspronklike konteks gedui het op die koning uit die huis van Dawid en vandaar kan ‘n mens maklik die lyn volg na Jesus Christus toe, soos die Nuwe Testament inderdaad doen.

Die vraag is egter: Ondersteun die Psalm self en die Nuwe Testament die standpunt van die 2001-omdigting en die verklaring van van Rooy? En verder: Hoe moet ons “Adoni” (“my Here”) verklaar?

Maar Jesus Christus en sy Gees sê “my Here”

Dit het alles met goeie taalkunde te make om die skrywer self te vra wat hy bedoel. Die skrywer self sal immers die beste weet wat hy self bedoel het.

Dit geld ook van die woorde “my Here”. In Psalm 110 is Jesus Christus self die Skrywer deur sy Gees (HK Son.12, antw.31; 1 Pet.1:11) en in Matteus 22 kom die Skrywer weer aan die woord en dan spel Hy in eie Persoon vir ons die woorde van Psalm 110. En – Jesus Christus sê “my Here”. Volgens Hom slaan Psalm 110:1 op Hom alleen reeds toe Dawid onder inspirasie van die Heilige Gees in dié Psalm van Hom geprofeteer het.

In Matteus 22 leer ons Here Jesus Christus dat met “my Here” iets so heel besonders gesê word, dat dit doodeenvoudig nie van toepassing kan wees op enige aardse koning uit die huis van Dawid nie. Dit kan nie slaan op ‘n aardse koning nie, want met die “my Here” word niks minder as die Godheid van Jesus Christus uitgedruk nie. Daarom noem Dawid sy eie Seun “my Here”.

Dìt is Jesus Christus se verklaring van Psalm 110:1: Hy is nie net die Seun van Dawid nie, maar Hy is veel meer as net dit: Hy is ook die Seun van God. Later bevestig Jesus hierdie verklaring nog met ‘n eedswering (Mt.26:63) en net in die volgende vers (v.64) sê Hy dat die Jode dit ook sal sien dat sy verklaring juis is: “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel”. Die Skrywer van Psalm 110 verklaar dus die woorde “my Here”, Hy beëedig hierdie uitleg in die Naam van die lewende God én Hy bevestig dit met die daad. En – juis oor hierdie verklaring word Jesus Christus die dood skuldig verklaar (Mt.26:65-66)!

En Jesus Christus roep dit ook luid in die Psalm self uit: “my Here”

In sy kommentaar op Psalm 110 skryf Calvyn: Ons vind die sekerheid dat hierdie Psalm op Christus alleen slaan eerstens in die woorde van Jesus self (Mt.22:41-46). Dan vervolg hy: Ook die Psalm self roep dit luid uit dat daar geen ander verklaring moontlik is nie.

Ook dit het alles met goeie taalkunde te make: om ‘n woord binne sy verband te verklaar. Dit geld ook van die “my Here”. Die res van die Psalm, die konteks, moet lig werp op hierdie woorde. Die Skrif moet die Skrif verklaar en dan sien ons: In Psalm 110 sê Jesus Christus deur sy Gees bepaalde dinge van “my Here”, dinge wat dit onmoontlik maak om “my Here” op ‘n mens te laat slaan.

  • Eerstens word in die Psalm deur die HERE tot “my Here” gesê: “Sit aan my regterhand” (v.1).

Om aan die regterhand van God te sit – dit word nooit in die Ou Testament van enige aardse koning gesê nie.

Ook die Nuwe Testament bevestig dat hierdie woorde nie op ‘n aardse koning slaan nie, want op Pinksterdag verklaar Petrus: “Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand” (Hand.2:34). Op talle ander plekke in die Nuwe Testament word Jesus Christus se Godheid bewys op grond van hierdie woorde van Ps 110:1, byvoorbeeld in Heb. 1:3,13.

Die woorde “sit aan my regterhand” pas dus nie op ‘n mens nie en dit leer ons om die “my Here” so te verstaan dat dit wys op Jesus Christus alleen.

  • Tweedens word in die Psalm deur die HERE met eedswering van “my Here” gesê: “U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek” (v.4).

Ook dìt word nooit van enige aardse koning uit die huis van Dawid gesê nie. Die Dawidiese konings was nie priester én koning nie en nog minder priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek. Die voorbeeld van koning Ussia (2 Kron.26:16-21) sê genoeg: Ussia is met die oordeel van die HERE getref, omdat hy priester wou speel.

“My Here” is die kanonieke, gesagvolle verklaring

Diegene wat soos die 2001-omdigting “my koning” op ‘n mens laat slaan, beroep hulle op die woord “Adoni” (my heer).

In hierdie argument word die Joodse (Masoretiese) interpretasie (vokalisasie) van die teks gevolg. Die Masorete het die woord “Adoni” (‘dny) so gaan skryf, dat dit gelees kan word “my heer”. Maar ons moet besef: Hierdie Masorete het hulle werk gedoen lank (eeue) nadat die kanon (die gesagvolle teks van die Bybel) reeds erken was. Wat hulle gedoen het, is dus nie kanoniek (gesagvol) vir ons nie.

Teenoor die Masoretiese, nie-kanonieke, nie gesagvolle interpretasie van Psalm 110 staan die kanonieke, gesagvolle woorde van Jesus Christus in Matteus 22 en sy kanonieke en gesagvolle woorde in Psalm 110 (dat “my Here” aan die regterhand van die HERE sit en priester volgens die orde van Melgisedek is) en Hy sê: “my Here”.

Psalm 110 gaan net oor die Messias

In die lig van die Psalmteks self én op grond van die Nuwe Testament is dit duidelik: “My Here” slaan slegs op Christus. Met hierdie verklaring bly ons trou aan die teks en aan die reformatoriese Skrifverklaringsbeginsel dat die Skrif sy eie uitlegger is.

Die 2001-omdigting en die verklaring dat “my Here” na aardse konings én na Christus verwys, slaag nie toets van die Skrif nie. Daarom los die voetnote van Sinode 2003 ook nie die probleem op nie, want dit sluit aan by laasgenoemde verklaring.

Die omdigter se amptelike standpunt met ‘n beroep op sy adviseurs dat Psalm 110 nie Messiaans is nie, is ook offisieel gepubliseer. Om sy omdigting nou by nabaat te probeer verdedig of om dit met voetnote te probeer regstel, is gevolglik doodeenvoudig nie moontlik nie. Die Psalmteks self, die Nuwe Testament en Christus persoonlik spreek duidelik genoeg.

(62) Psalms van Christus

Psalm 15 (4): geloof geëis wat vrugte dra

As dit nie in vers 2 tot 5 oor verdienstelike werke gaan nie, werke waardeur ons die lewe kan verdien nie, wat se werke is dit dan?

Dit is dankbaarheidswerke. Dit is werke wat die ware geloof deur die genade van God voortbring. Die Heidelbergse Kategismus sê: Dit is onmoontlik dat iemand wat in Christus deur ‘n waaragtige geloof ingeplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie. Dit grond ons belydenis op die volgende tekste: `n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en `n slegte boom ook geen goeie vrugte nie (Matteus 7:18 ). Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).

Hierdie Skrifgedeelte en die belydenis leer ons so helder as wat maar kan kom:

  • ‘n Ware geloof moet vrugte voortbring en
  • die ware geloof bring die vrugte voort deur en danksy Christus.

Die ware geloof moet vrugte dra. Daarteenoor hoor ons: Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg (Johannes 15:2).

(61) Psalms van Christus

Psalm 15 (3): nie deur eie werke nie, maar deur genade alleen

In vers 1 het ons die vraag: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?

In vers 2 tot 5 het ons die antwoord, wat die HERE Self gee. Immers, Hy word gevra in vers 1 en daarom is die antwoord in 2 tot 5 van Hom afkomstig.

Nou kan ons maklik ‘n groot fout maak met die eise van vers 2 tot 5. Ons kan naamlik dink dat ons in hierdie gebooie voorwaardes het waaraan ons moet voldoen, waardeur ons dit verdien om ingelaat te word in die teenwoordigheid van die Here. So bly daar dan natuurlik heeltemal niks oor van die leer van genade alleen en Christus alleen nie. Dan hang dit van ons goeie werke af of ons mag inkom en mag lewe.

Ek kan talle argumente noem waarmee ek klinkklaar kan bewys dat dit nie oor goeie werke gaan waardeur ons dit self verdien om in te gaan nie. Ek gaan vandag net enkele argumente noem.

  1. In die eerste plek moet ons Psalm 15 nie losmaak van Psalm 14 nie. En daar in Psalm 14 word ‘n dik streep getrek deur ons vermoeë om self, deur ons goeie werke, die deur na God se paleis oop te beur. Want daar staan die verdoemende woorde: Die HERE het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. (14:2,3) As ons daarom uiteindelik die werke van Psalm 15:2-5 doen, sal daar ‘n wonder van God moet gebeur. Dan sal die werke nie ons werke wees nie, maar syne.
  2. Tweedens moet u sien hoe wonderlik dit gaan met hierdie man van Psalm 15: Nog voordat hy die antwoord het, gaan hy reeds deur die gebed by God in en dan ontvang hy die antwoord, nog voordat hy aan enige eise kon voldoen. Dit is genade.
  3. Derdens en veral wil ek u wys op die Naam HERE (Jahwe), waarmee die Psalmdigter begin. Dit is die verbondsnaam. Dit is die Naam wat spreek van die HERE se genadeverbond. Dit is ‘n Naam tot oorlopens toe vol van evangelie. Daarom alreeds kan ons weet dat dit in Psalm 15 nie gaan oor ‘n hoop wettisisme nie, maar oor werke danksy God se genade.

(60) Psalms van Christus

Psalm 15 (2): Wie mag in u teenwoordigheid kom? Vra dit vir die HÉRE!

Wie mag nou en in die ewigheid in die HERE se teenwoordigheid kom? Wie ontvang die lewe – die lewe nou alreeds in die Here se teenwoordigheid en die lewe tot in ewigheid by Hom?

Wie kan ons daarop antwoord?

Die Psalmdigter wys ons die pad. Hy begin naamlik met die Naam HERE: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy bid. Hy stel dus die vraag biddend aan die HERE.

Ons lees so sonder om na te dink. Wie het daaraan gedink dat ons hier in Psalm 15 met ‘n gebed te make het?

Van nature weet ons nie wat die weg na God toe is nie. Net Een kan dit aan ons openbaar: die HERE alleen. Daarom bid die digter: HERE …!

Die gebed is onmisbaar.

Ons belydenis, dieHeidelbergse Kategismus 45:116, laat ons sien waarom die gebed so absoluut noodsaaklik is: omdat God sy genade (die genade van sy openbaring) en Heilige Gees alleen aan diegene  wil gee wat Hom met hartlike sugte sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Die gebed en die Woord gaan altyd saam. Ware gebed is gryp na Christus.

Ons het die Bybel, waarin die HERE ons wys hoe ons kan inkom by Hom: deur Christus alleen; Hy is die Weg na die Vader toe.

Maar die Bybel bly vir ons ‘n geslote Boek as die die HERE nie ons blinde oë oopmaak nie. Daarvoor moet ons bid.

Daarom bid Dawid: HERE … Wys Ú my die Weg. Want op daardie Weg, Christus, kan ek leef in U heerlike teenwoordigheid – nou en tot in ewigheid.

(59) Psalms van Christus

Psalm 15 (1): die lewens-vraag

Psalm 15:1 begin met die vraag: Here, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg?

Dit is ‘n lewens-vraag. Dit gaan oor lewe.

Weet julle wat is lewe, werlik lewe, ewige lewe, lewe in die ware en volle sin van die woord? Dit is om te mag kom in die teenwoordigheid van die HERE en te mag verkeer in die teenwoordigheid van die HERE.

In Eksodus 40:34 lees ons hoe die HERE onder sy volk kom woon het. Die wolk het die tent van samekoms oordek het, en die heerlikheid van die HERE het die tabernakel vervul. Dit was die teken dat die HERE daar sy intrek geneem het in die midde van die volk. Dieselfde hoor ons ook van die tempel van Salomo (1 Konings 8:10,11).

Daar in die tabernakel en tempel, op sy heilige berg, het die HERE dus gewoon. Dit was die besondere van tabernakel en tempel. Tabernakel en tempel was ‘n stukkie van die paradys wat was (Genesis 2&3) en ‘n voorsmaak van die paradys ( die nuwe aarde) wat kom. Daar het die gelowiges van die Ou Verbond God ontmoet en sy stem gehoor soos eens in die paradys. ‘n Mens kan dit daarom so goed verstaan dat elke gelowige Israeliet daarna verlang het om na die tabernakel of later na die tempel te gaan. Hulle wou so sielsgraag by die HERE, voor sy aangesig wees. Dit was immers lewe. Daar in die tabernakel en tempel het die HERE sy heerlike evangelie in al die offers en seremonies aan hulle geopenbaar. Hulle kon Christus aanskou, Christus, wat ons lewe is (Kol.3:4)

In Psalm 27:4 hoor ons die Psalmdigter sê wat sy grootste begeerte. Hy sê daar: een ding het ek begeer. Daardie een ding het ek begeer, kan ons letterlik vertaal: dit was my grootste begeerte. En dan spel hy sy grootste begeerte uit: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

Daar was vir hulle niks mooier en iets waarna hulle meer verlang het as na die huis van God en die HERE se teenwoordigheid daar en die altare, wat spreek van die evangelie nie: Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God. Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, (en ek vind rus in u huis, by) u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig.

Hoe wonderlik-mooi vat Totius dit nie saam in sy beryming van Psalm 43 nie:

Dan gaan ek in na Gods altare,

tot God, my God, my vreugde=en lied;

dan speel ek met die harpenare,

dan ruis vir U my blye snare –

vir U wat my, ná kort verdriet,

‘n eewge vreugde bied.

Vandag het ons nie meer ‘n tempel van steen nie. Die kérk is die tempel van die Here. Daar is Hy teenwoordig kragtes sy belofte (Matteus 18:20: waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde). Dit maak elke erediens tot iets heel, heel besonders en iets waarna ons net soos die Ou Testamentiese gelowiges hunker: Ons gaan daarheen om die Heere te ontmoet en om sy evangelie, sy lieflikhede, sy Christus te geniet.

Uiteindelik het tabernakel, tempel en kerk heengewys na die ewige lewe in sy vervulling, die lewe in sy volheid in die hiernamaals. Dit het vir Paulus die sterwe wins gemaak: dat hy dan met Christus sal wees en dit was vir hom verreweg die beste (Filippense 1:23).

Ons kan ook nog die gebed noem: Gebed is om aan die hand van Christus in te gaan in God se troonsaal, in sy salige teenwoordigheid.

Maar nou weer die groot vraag van vers 1: Wie mag nou en in die ewigheid in die HERE se teenwoordigheid kom en altyd by Hom bly? Is dit almal? Is dit alle kerkmense? Of is dit net sommige lidmate?

Die vraag wil ek DV in die volgende paar oordenkings oor Psalm 15 behandel.